Manga

Manga (漫画 Manga) is strokiesprente wat in Japan of deur skeppers in die Japannese taal geskep is, en stem ooreen met 'n styl wat in die laat 19de eeu ontwikkel is.[1] Dit het 'n lang en komplekse voorgeskiedenis in vroeëre Japanse kuns.[2]

Die term manga (kanji: 漫画 ; hiragana: まんが ; katakana: マンガ ;  luister  ; Engels /ˈmæŋɡə/ of /ˈmɑːŋɡə/) in Japan is 'n woord wat gebruik word om te verwys na sowel strokiesprentboeke as spotprente. "Manga", as 'n term wat buite Japan gebruik word, verwys na strokiesboeke wat oorspronklik in Japan gepubliseer is.[3]

In Japan lees mense van alle ouderdomme manga. Die medium sluit werk in 'n wye verskeidenheid van genres in: onder meer aksie-avontuur, besigheid en handel, komedie, speurverhale, historiese drama, gruwel, raaiselverhale, romanse, wetenskapfiksie en fantasie, seksualiteit, sport en speletjies en spanning. Baie manga is in ander tale vertaal.[4] Sedert die 1950's het manga 'n al hoe groter deel van die Japanse uitgewersbedryf geword,[5] wat 'n mark van ¥406 miljard in Japan in 2007 (ongeveer $3.6 miljard) en ¥420 miljard (ongeveer $5.5 miljard) in 2009 behels.[6] Manga het ook 'n beduidende wêreldwye gehoor verwerf.[7] In Europa en die Midde-Ooste was die mark in 2012 $250 miljoen werd.[8] In die VSA en Kanada was die mangamark in 2008 $175 miljoen werd; en die markte in Frankryk en die VSA is ongeveer dieselfde grootte.

Mangastories word gewoonlik in swart-en-wit gedruk,[9] hoewel daar ook volkleurmanga bestaan. In Japan is manga gewoonlik vervolgverhale in groot mangatydskrifte, dikwels met baie stories wat elkeen 'n enkele episode is wat in die volgende uitgawe voortgesit sal word. As die reeks suksesvol is, kan die versamelde hoofstukke heruitgegee word in tankōbon-volumes, wat gewoonlik, maar nie uitsluitlik nie, slapbandboeke is.[10] 'n Mangakunstenaar (mangaka in Japannees) werk gewoonlik met 'n paar assistente in 'n klein ateljee en in vennootskap met 'n kreatiewe redakteur van 'n kommersiële uitgewersmaatskappy.[11] As 'n mangareeks gewild genoeg is, kan dit na of selfs tydens die reeks geanimeer word.[12] Soms handel manga oor voorheen bestaande lewendige-aksie- of animasie-rolprente.[13]

Strokiesboeke wat deur manga beïnvloed is, waarvan party oorspronklike werke is, bestaan in ander dele van die wêreld, veral in China, Hongkong, Taiwan ("manhua") en Suid-Korea ("manhwa").[14][15]

  1. Lent 2001, bl. 3–4, Gravett 2004, bl. 8
  2. Kern 2006, Ito 2005, Schodt 1986
  3. Merriam-Webster 2009
  4. Gravett 2004 bl. 8
  5. Kinsella 2000, Schodt 1996
  6. Saira Syed (18 Augustus 2011).
  7. Wong 2006, Patten 2004
  8. Danica Davidson (26 Januarie 2012).
  9. Katzenstein & Shiraishi 1997
  10. Gravett 2004, bl. 8, Schodt 1986
  11. Kinsella 2000
  12. Kittelson 1998
  13. Johnston-O'Neill 2007
  14. Webb 2006
  15. Wong 2002

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search